Development towards the concept of ideal protein nutrition for horses
June 14, 2018
Lamhokke verhoog speenpersentasie – Dr Vlok Ferreira
July 16, 2018

Voerkraalpitkos, RCL FOODS, Navorsingsdata – Johan Mouton

 

(Johan Mouton, tegniese bestuurder R & D, Ruminants, RCL FOODS)

 

RCL FOODS se Animal Feeds wat Epol en Molatek bemark streef daarna om nie net kwaliteit produkte te verskaf nie maar ook die beste praktyk wat daarmee saamgaan.  Teen die agtergrond word voortdurende navorsing binne praktyktoestande gedoen ten einde die beste ekonomiese antwoord aan die klant te bied.  In hierdie artikel deel RCL FOODS onlangse resultate wat genereer is.

 

Baie klem word geplaas op spesifieke produkname of formulasies wat “beter” sou presteer.  Hiermee saam word visuele waarnemings gemaak wat nie noodwendig lei tot die regte afleidings nie.  Akkurate rekordhouding in ‘n voerkraal is ‘n uitdaging.  Verder is die tipe dier en indeling van die diere krieties aangesien dit ‘n groot invloed op verskille in resultate het. Vir ‘n spesifieke studie moet dieselfde roumateriale wat homogeen is van een bron saam diere wat geneties dieselfde profiel het, gebruik word.  Met hierdie verwysing as agtergrond moet navorsingsdata eerder interpreteer word teen die tendens wat voorkom en ‘n rigting van werk aandui as die eksakte van die syfer wat genereer is.

 

Studie 1. Invloed van ruvoerkwaliteit op diereprestasie

 

Ten spyte daarvan dat ruminante ruvoerbenutters is, is die neiging om ruvoer tot die minimum te beperk in rantsoene met die denkwyse dat hoër energie en proteïenwaardes noodwendig sal lei tot beter diereprestasie en verhoogde inkomste.  Tabel 1 toon 3 rantsoene waar gebruik gemaak word van swak kwaliteit ruvoer teen 15% insluiting, goeie kwaliteit ruvoer (lusern) teen 15% insluiting en 30 % lusern met verlaagde proteïen konsentraat vlakke.

 

Tabel 1. Verskillende ruvoer insluitings en kwaliteitsverskille.

Voeromsetverhouding is ʼn betroubare voorspeller van voerkraalprestasie. Figuur 1 toon die voeromsetverhouding wat in die onderskeie behandelings behaal is wat duidelik toon dat slegs 15% insluiting van swak kwaliteit ruvoer voerkraalprestasie betekenisvol benadeel met ʼn 1 : 6.75 voeromsetverhouding teenoor die goeie ruvoer wat 4.8 en 5.25 voeromsetverhoudings realiseer het.

Figuur 1. Voeromsetverhoudings van swak ruvoer vs. lusern

Diere is almal op dieselfde dag geslag na ʼn verlengde voerperiode van 80 dae ten einde te bepaal of rantsoene ʼn verskil in karkasgradering sou realiseer.  Ten spyte van die lang voertydperk het minder as 10% karkasse A5 gradeer.  Die 15%  & 30% lusern karkasse was swaarder en het hoofsaaklik A3 & A4 gradeer wat te verwagte sou wees.  Die 15% swak ruvoer het oorwegend A2 karkasse gradeer en was nie slaggereed toe die lusernbehandelings A2 sou gradeer nie.

 

Na ekonomiese ontleding van die data het die 15% en 30% lusern behandelings goeie winsgewendheid getoon met die 15% swak ruvoer wat onekonomies was in die studie.  Roumateriaalpryse speel vanselfsprekend ʼn rol maar die waarde van goeie kwaliteit ruvoer selfs teen ʼn hoë prys vir hoogs produserende diere moet nooit onderskat word nie.

 

Studie 2. Natuurlike proteïen

 

Dit is bekend dat natuurlike deurvloei diereprestasie verbeter.  Tesame hiermee word verhoogde proteïeninname ook gekoppel aan verhoogde produksie. ʼn Afrondstudie wat hierdie norme ondersoek het, het getoon dat dat die verhoogde proteïen en verhoogde natuurlike proteïen ongetwyfeld beter diereprestasie realiseer het.  Dit het ook gehelp met beter aanpassing en verhoogde innames  tydens die aanpassingsfase in die voerkraal.  Waar die hoë vlakke egter gehandhaaf is tot diere geslag is het dit ʼn negatiewe invloed op ekonomie gehad.  Lammers swaarder as 35 kg het nog steeds behoefte aan natuurlike proteïen maar die addisionele produksie verhaal nie die koste van verhoogde verbyvloei proteïen vir swaarder lammers nie.  Die besluit sal ook nie eksak en vas wees nie aangesien roumateriaalpryse ʼn rol te speel het in die besluit.  Indien proteïenpryse sou verlaag in verhouding tot ander roumateriale kan dit moontlik regverdig word.  Soos in die geval van die ruvoerkwaliteit speel die kwaliteit van die totale roumateriale ʼn groter rol as om net na die kwaliteit van die verbyvloei proteïen te kyk.

 

Studie 3. Heel vs. gebreekte mielies

 

Tydens moeilike ekonomiese tye word alle pogings aangewend om geld te spaar.  Die vraag word met reg gevra of dit regtig nodig is om mielies te breek vir ʼn afrondingrantsoen. Tabel 2 toon ʼn rantsoen wat gevoer is vir lammers vir ʼn 55 dae periode in twee behandelings, een met heel mielies en die ander met gebreekte mielies ten einde die verskil in prestasie tussen die twee praktyke te bepaal.

 

Tabel 2. Rantsoen met onderskeidelik heel en gebreekte mielies

 

Roumateriaal Kg
Skaap/Kalf konsentraat 200
Melassameel 40
Mielies 610
Lusern 150
Molatek Bypass * 50
Totaal 1050
* Slegs vir aanpassingsfase tot 35 kg liggaamsmassa

   Behandeling 1                                                                            Behandeling 2.

                                 

 

 

Figuur 2 toon ʼn goeie voeromsetverhouding van 1 : 4.56 vir die gebreekte mielies teenoor 1 : 4.57 vir heel mielies wat nie betekenisvol verskil nie.  Rumen pH, voerinname & vermorsing is noukeurig moniteer met klein variërende verskille wat voorgekom het maar geen daarvan betekenisvol nie.

Figuur 2. Heel vs. gebreekte mielies se voeromsetverhoudings

In hierdie studie is geen noemenswaardige seleksie van die heel mielies waargeneem nie en voer is eweredig oor ʼn 24 uur periode benut. Diere is een maal per dag gevoer. Met alle parameters prakties dieselfde is die een verskil wat voorgekom het dat die gebreekte mielies 14 gram per dag beter gegroei het as die heel mielies.  Dit het daartoe aanleiding gegee dat die ekonomiese ontleding ʼn netto wins van R184 / lam (gebreek) teenoor die heel mielies se R170 / lam genereer het vir die prys situasie tydens die studie.  Die rantsoenkoste is aangepas om verskille in maalkoste te reflekteer.

 

Die boodskap uit die studie is dat die breek van mielies die moeite werd is vir skaapvoerkrale.  Produsente wat egter nie die nodige maaltoerusting het nie en nie die koste wil aangaan omdat hul slegs baie periodies voer kan dit suksesvol doen met heel mielies.  Vir interessantheid is die studie met beeste ook gedoen en die heel mielies het betekenisvol negatiewe ekonomiese resultate genereer, dus geen heel mielies vir beeste.

 

Oorsigtelike waarnemings

 

Met ʼn aantal studies van RCL FOODS onder dieselfde gekontroleerde toestande op hortjiesvloere is daar opgemerk dat groot verskille tussen ram en ooi lammers voorkom.  Algemeen is ʼn 10 – 15% swakker prestasie van ooilammers aanvaarbaar.  Groter verskille van tot 30% is waargeneem en verskille van selfs 20% kom gereeld voor.  Eerstens moet gemete data deeglik verwerk word om seker te maak verskille waargeneem is nie geslags effekte aangesien dit al waargeneem is dat geslagte verskillend reageer om rantsoene.  Tweedens is dit van belang vir afronding van lammers om die aantal ooilammers tot die minimum te beperk in die voerkraal aangesien dit die totale ekonomiese prestasie kan benadeel.

 

 

Reeds genoem is die homogene genetiese samestelling van ʼn studie van groot belang.  Tydens die aankoop van lammers van een studie is lammers wat uit ʼn kudde wat as gemiddeld beskryf kan word gebruik.  Daaropvolgende studies is lammers gebruik uit ʼn hoë gehalte kudde wat ook ʼn stoet bedryf.  Hoewel die studies se ontwerpe verskil en nie ten doel het om kuddes te vergelyk nie word dieselfde voer as kontrole telkens gebruik.  Prestasie van die geneties meerderwaardige kudde is konstant 20% en meer beter as die gemiddelde kudde wat tot soveel as 100 gram/lam/dag kan wees.  Daar moet nie meer in gesien word as ʼn akkurate waarneming nie maar die belang van meerderwaardige genetika moet nie onderskat word nie.  Dit is ook bemoedigend dat die stoetbedryf sulke meerderwaardige diere kan verskaf.

 

Samevatting

 

Uit die navorsingsdata vanaf die RCL FOODS is die volgende bevestig:

 

  • Benut hoë kwaliteit ruvoer (lusern) in afrondingsrantsoen, dit bly ekonomies teen selfs ʼn hoë koste
  • Natuurlike proteïen gee ongetwyfeld verhoogde diereprestasie maar het ʼn ekonomiese draaipunt en kan nie onbeperk gegee word nie
  • Gebreekte mielies is eerste keuse in ʼn afrondrantsoen.
  • Ooilammers kan tot 30% swakker diereprestasie in die voerkraal genereer
  • Gebruik altyd die beste genetika wat jy kan bekostig vir jou kudde