Wenke vir beter prestasie in skaapvoerkrale – Johan Mouton
August 24, 2018
 Aanvulling van ‘n veldkudde – Johan Mouton | Ruminants R&D
September 5, 2018

Die ekonomiese afronding van lammers in voerkrale — Dr. Vlok Ferreira

Deur Dr. Vlok Ferreira

Skaapvoerkrale moet bekostigbare lamsvleis lewer én winsgewend wees. ’n Voordeel vir skaapboere is egter dat lamsvleis nie regstreeks met witvleis meeding nie omdat dit reeds as ’n nismarkproduk beskou word, waar die verbruiker ook minder prysgevoelig is.

Die wêreldbevolking gaan na verwagting binne die volgende twee dekades twee keer meer kos nodig hê, wat op twee derdes van die huidige beskikbare landbou-
grond gelewer sal moet word.
Dieselfde neiging kan in Suid- Afrika verwag word, wat ’n verhoogde vraag na skaapvleis sal stimuleer. Dit skep dus ’n goeie geleentheid vir skaapboere wat self hul lammers vóór bemarking afrond. Skaapboere wat lammers winsgewend wil afrond, moet die beskikbare wetenskaplike hulpmiddels inspan, maar hulle moet ook vernuwend kan dink om die regte prys vir hul produkte te behaal.
Baie ander faktore moet ook in aanmerking geneem word, wat ’n regstreekse bydrae tot die verbetering van winsgewendheid van afronding kan lewer. Een van die belangrikste faktore is die gehalte van die rantsoene.

Voedingstowwe

Die gehalte van die rantsoene bepaal die koste per kilogram gewigstoename. Die gehalte van die rantsoen wat in die voerkraal gevoer word, het ’n belangrike invloed op die prestasie van die diere en die winsgewendheid van die onderneming.
Die doeltreffendheid van groei en voeromsetting word hoof-
saaklik bepaal deur die hoeveelheid energie, gewoonlik in die vorm van melasse en graan, wat deur die skaap gevreet word. Die samestelling van die voerkaalrantsoen moet dus daarop gemik wees om soveel graan moontlik te bevat sonder dat dit metaboliese stoornisse, soos opblaas en suurpens, veroorsaak.
Afrondingsrantsoene moet ’n hoë energievlak hê omdat energie die tempo aangee waarteen ander voedselbestanddele in die metaboliese prosesse benut word en dus die groeitempo bepaal. Omdat energie tot 70% van die koste van ’n afrondingsrantsoen kan uitmaak, maak boere wat voerkoste wil beperk, dikwels die fout om die energievlak te verlaag. Dit lei egter tot swakker groei en uiteindelik tot die verhoging van voerkoste per kilogram vleis geproduseer. Dié koste kan met 25% tot 30% verhoog. Ander voedingstowwe, veral proteïene, minerale en vitamiene, moet egter ook aangevul word.

 

Skape in 'n voerkraal

Skape in ’n voerkraal. Die stygende vraag na rooivleis skep goeie geleenthede vir skaapboere wat hul lammers sélf afrond voordat hulle bemark word. Foto:  Johan  Norval

Voerkrale

Hier is ’n paar praktiese wenke om voerkrale so doeltreffend moontlik te bestuur.
Voerkrale moet verkieslik teen ’n helling wees ter wille van dreinering en die voorkoming van probleme, byvoorbeeld vrotpootjie.
In oop krale word ’n ruimte van 1,5 m2 tot 2,5 m2 per skaap benodig.
Voldoende skaduwee in voerkrale is belangrik omdat metaboliese prosesse die liggaamstemperatuur van skape laat styg. As die skape warm lug moet inasem, is afkoeling onvoldoende. Dit lei tot ’n laer voerinname en swakker prestasie. Skaduwee van minstens 0,5 m2 per skaap moet oor die voerkrippe en weg van die voerkrippe aan die teenoorgestelde kant van die kraal voorsien word. As daar net skadu oor die voerkrippe is, sal die skape om die krippe saamdrom en dit sal toegang vir ander diere beperk. Die voer sal dan ook makliker met mis en urine besoedel word. Skaduwee moet in ’n oos-wes-rigting wees om die beskikbare skaduwee die beste te benut.
Voerkrippe moet só ontwerp en geplaas word dat die skape nie bo-op kan klim nie. Dit sal keer dat hulle in die voer mis of urineer. Die krippe moet ook só geplaas word dat die voer nie natreën nie. Hoewel kripspasie van 100 mm per skaap voldoende is, sal spasie van tot 300 mm voordeliger wees, veral tydens die aanpassingsperiode.
Selfvoerders hoort nie in ’n voerkraal nie omdat werkers gewoonlik te veel voer op ’n keer toedien. Beter resultate sal verkry word as daar drie keer per dag in oop krippe gevoer word.
Die skape moet ook voortdurend toegang tot voldoende skoon, koel drinkwater hê. Die waterbakke moenie te groot wees nie, want anders vind oormatige vermorsing met die skoonmaak plaas. Dit is ’n ideale uitbroeiplek vir vlieglarwes en koksidiose. Die drinkbakke moet so ver moontlik van die voerkrippe af wees om te keer dat voer in die waterbakke beland. As dit gebeur, word die water gou suur en kan die diere weier om dit te drink.
Lammers wat voor speentyd kruipkorrels ontvang het, pas baie makliker aan in die voerkraal nadat hulle gespeen is.
Groeikorrels is veral geskik vir jong woltipe lammers tydens aanpassing tot 40 kg lewende liggaamsgewig. Slaan daarna oor na afrondingskorrels totdat die diere se slaggewig bereik is.

Volledige rantsoen

Dit is belangrik om skape se rantsoene op die korrekte manier aan te pas:
Dag 1-2: Beperk die volledige rantsoen tot 1,5% van die liggaamsgewig per dier per dag plus hooi/ruvoer na behoefte.
Dag 3-4: Beperk die volledige rantsoen tot 2,0% van die liggaamsgewig per dier per dag plus hooi/ruvoer volgens behoefte.
Dag 5-6: Beperk die volledige rantsoen tot 2,5% van die liggaamsgewig per dier per dag plus hooi/ruvoer na behoefte.
Dag 7-8: Beperk die volledige rantsoen tot 3,0% van die liggaamsgewig per dier per dag plus hooi/ruvoer na behoefte.
Dag 9-10: Beperk die volledige rantsoen tot 3,5% van die liggaamsgewig per dier per dag plus hooi/ruvoer na behoefte.
Indien diere volkome aangepas is en geen tekens van asidose toon nie, word die volledige rantsoen na behoefte ná dag 10 gevoer.

Dr. Vlok Ferreira is die nasionale tegniese bestuurder (herkouers) van RCL Foods se voereafdeling.

Navrae: E-pos: Vlok.Ferreira@rclfoods.com

Bron: Landbou.com

Klik hier om die oorspronklike landbouweekblad artikel af te laai.